banner

 

 

Introductory remarks by President Nelson Mandela at a meeting with Afrikaans organisations, Cape Town

15 May 1996

Verteenwoordigers van die verskillende organisasies;
Dames en Here

Dis weereens vir my 'n voorreg om u te kan verwelkom by die voortsetting van hierdie belangrike gesprek wat op vorige geleent- hede met 'n verskeidenheid van groepe begin is. En dis veral vir my aangenaam om u ook hier in die Kaap te kan ontvang, aangesien ons vorige gesprekke hoofsaaklik in die Noorde plaasgevind het.

Dis miskien gepas dat ons die eerste gesprek oor Afrikaans na die aanvaarding van die nuwe grondwet hier in die Kaap voer; want per slot van sake is dit die geboorte-plek van Afrikaans. En miskien gaan die groei en ontwikkeling van Afrikaans nou juis daarby baat vind om terug te gaan na sy ontstaanswortels, en om al sy sprekers, ook die verskillende Kaapse gemeenskappe, in gelyke mate te betrek by daardie gesprek.

Ek het verlede Woensdag in die Grondwetgewende Vergadering gese dat die aanvaarding van die nuwe grondwet nie 'n eindpunt is nie, maar wel die begin van ons lang pad om 'n nasie te bou en in stand te hou. Nou mnoet ons daardie nasie uitbou.

Ek het dit ook uitdruklik gestel dat daar, ten spyte van die aanvaarding van 'n nuwe grondwet, steeds punte van kommer bestaan onder verskillende minderheids-belangegroepe. En die feit dat ons die grondwet aanvaar het beteken beslis nie dat ons nou nie meer daardie punte van kommer gaan aanspreek nie. Ons sal voortgaan om te soek vir onderling aanvaarbare oplossings, want ons wil he dat elkeen moet voel dat hy of sy deel uitmaak van die pogings om die probleme van Suid-Afrika op te los. En elkeen moet onvervreembaar deel voel van die Suid-Afrikaanse nasie wat ons bou.

Hierdie voortsettings-gesprek is dan ook deel van daardie poging. Een van die brandpunte in die grondwetlike onderhandelinge was die kwessie van taalmedium in die onderwys, en spesifiek die vraag na enkel-medium inrigtings. Kom laat ons hierdie gesprek vanoggend begin met die onderlinge aanvaarding van die feit dat daar van albei kante 'n kompromis aangegaan is oor hierfdie saak. Nou le dit op ons weg om in die implementering van daardie grondwetlike kompromis toe te sien dat aan alle belange gereg geskied. Dit word nou 'n kwessie van die politieke wil om dinge te laat slaag.

U weet dat die groot kommer rondom die kwessie van enkel-medium skole was dat dit misbruik kon word om rassisme in verskuilde vorm voort te sit, en om ou voordele te verskans. Aan die ander kant, is ek bewus, is daar die vrees en agterdog dat die onwilligheid om enkel-medium skole te verskans eintlik maar neerkom op 'n verskuilde plan om Afrikaans te vernietig. Die uitdaging aan ons is om binne die nuwe grondwetlike bepaling toe te sien dat nie een van hierdie twee euwels bewaarheid word nie. Want ek wil vir u verseker dat net soos die voortsetting van rassisme en ras-gebaseerde voordele 'n euwel is, sal enige pogings tot die vernietiging van Afrikaans 'n euwel wees.

Dit sal voorbarig wees van my om aan enige belange-groep voor te skryf oor hoe hulle hul saak behoort te bevorder. Daarom wil ek liewer by wyse van vraagstelling sekere sake opper. Word die saak van Afrikaans nie miskien 'n onreg aangedoen deurdat dit in die persepsie van so baie mense gekoppel gaan word aan die belange van 'n enkele kleurgroep nie?

Die argument wat gevoer kan word vir die behoud, beskerming en vertroeteling van Afrikaans is sekerlik nasionaal eerder as seksio- neel. Dit is 'n Suid-Afrikaanse taal wat, volgens alle standaarde, merkwaardig presteer het in terme van ontwikkeling as 'n taal van wetenskaplike, akademiese en algemeen-intellektuele uitdrukking. 'n Nasie wat sy intellektuele prestasies op prys stel, sal uit sy pad gaan om die middele van daardie prestasies te beskerm en te bevorder. Dit, glo ek, is die groot en sterk argument vir Afrikaans. Dit is dieselfde argument wat gemaak kan word vir die bevordering van wetenskaplike uitdrukkingsvermoe in al die inheemse tale; dit is in die nasionale belang om 'n algemene wetenskaplike geletterdheid binne bereik van 'n groter publiek te bring.

En dan wil ek nog vra: is een van Afrikaans se groot prestasies, wat ongelukkig deur die onlangse verlede te veel verskuil is, nie juis dat dit so 'n nie-rassige spraak-gemeenskap het nie? Waarom probeer Afrikaans nie daardie feit in verband met homself met groter "Nuwe Suid-Afrikaanse" vreugde en viering uitleef nie? Sal so 'n benadering nie die saak versterk van ons almal wat probeer om die saak van Afrikaans ter wille te wees?

Daardie is egter maar net die vrae van iemand wat nie 'n moedertaal-spreker van Afrikaans is nie, maar wat die belange van die taal en sy sprekers sterk op die hart dra. Dit is nie vir myom voor te skryf nie; u sal besluit hoe u op daardie vrae reageer.

Ons het nou nie net 'n nuwe grondwet nie, die aankondigings van die afgelope week kondig in 'n sekere sin ook die volwasse-wording van ons demokrasie aan. Noudat die tweede grootste party aan die regering onttrek het, het ons 'n meerderheidsparty wat byna alleen regeer en die verantwoordelikheid van regering moet aanvaar. Dit sluit in verantwoordelikheid teenoor alle belange en belangegroep in die land, en dit geld natuurlik ook vir Afrikaans en Afrikaans- sprekendes. En ek vertrou dat ons van die gesprek hier vanoggend kan vertrek met 'n sekere begrip oor hoe ons nou verder op 'n ordelike en algemeen-aanvaarbare wyse uitvoering kan gee aan die relevante onderwys-bepalings in ons grondwet.

Dankie.

Uitgereik deur: Die Kantoor van die President

Source: South African Government Information Website

Facebook