banner

 

 

Address by President Nelson Mandela at opening of The Ritchie Project, Ritchie (Afrikaans)

1 November 1998

Dit is 'n groot voorreg vir my om vandag hierdie projek aan die gemeenskap, en hierdie land aan die plaaswerkers te oorhandig.

Ek het nou net, nie ver hiervandaan nie, 'n behuisingsprojek amptelik geopen.

Regdeur ons land word nuwe huise gebou, deur talle nuwe projekte word die lewens van miljoene verbeter. Waterkrane word aangel� en elektrisiteit word na huise gebring.

Sommige van hierdie projekte word met groot feesviering geopen; in ander gevalle word dit stiller gedoen. Sedert ons eerste demokratiese verkiesings in Suid Afrika, 'n skrale vier en n half jaar gelede, is soveel al reggestel dat ek nie anders kan as om vreugde in my hart te voel nie.

Hoe meer ons regkry, hoe meer verstaan ons hoeveel nog gedoen moet word. Hoe meer ons sien hoeveel kinders deur die regering se voeding-skema bereik word, hoe meer vasbeslote word ons om daarvan 'n sukses te maak.

Julle moet trots wees oor wat julle en die Noord-Kaap regering tot dusver al reg gekry het. Maar, ons weet dit is nie genoeg nie; daar is nog so baie wat gedoen moet word.

Ons moet almal hard saamwerk om nog baie meer te bereik en van ons land die plek te maak waarvan ons droom: 'n land vry van armoede, vry van misdaad, vry van diskriminasie, 'n land waar gelykheid nie net in ons grondwet geskryf staan nie, maar 'n werklikheid is in die alledaagse lewens van al ons mense.

Die volgende verkiesings is op hande.

Binne enkele maande sal elkeen van ons wat oor die ouderdom van agtien is, vir die tweede keer ons demokratiese reg om te kan stem, uitoefen. Maak asseblief seker dat julle almal julle groen idenditeitsdokumente met die "bar codes" het; en dan dat julle almal registreer sodat elkeen sy plig teenoor sy land kan doen. Onthou: om te mag stem is nie net 'n demokratiese reg nie; dit is ook 'n burgerlike plig.

Met hierdie woorde, wil ek graag amptelik hierdie bou projek aan die gemeenskap van Ritchie en hierdie titel-akte van die land aan die nege-en-vyftig plaaswerkers oorhandig.

Ek sien daarna uit om later weer na Ritchie terug te keer, en 'n vrugbare, ontwikkelende plek hier te sien. Wanneer ek terug kom wil ek graag baksteenhuise hier sien staan. Dit sal hierdie dag dubbel en dwars die moeite werd maak.

Baie dankie.

Issued by The Office of the President

Source: South African Government Information Website

Facebook