banner

 

 

Address by President Nelson Mandela at a service in the Groote Kerk, Cape Town

7 February 1999

Ds Botes
Lede van die Kerkraad
Gemeente-lede
Vriende

Met die geskiedkundige eerste opening van ons demokraties-verkose Parlement in Mei 1994, het u my uitgenooi om die ere-diens in u gemeente by te woon. Daarmee het u 'n ou tradisie voortgesit dat die Suid-Afrikaanse staatshoof die Sondag voor Parlementsopening aan die Groote Kerk se diens deelneem.

Ek was baie getref en aangedaan deur u gebaar. Ek het u daarmee hoor se dat u gemeente, en die Afrikaner-gemeenskap in die algemeen, volledig deel is van die nuwe politieke en maatskaplike bestel. En dat die Kerk in die veranderde omstandighede van ons land nie sou terugdeins van die nuwe uitdagings nie.

Ek is baie bly oor die geleentheid om vanoggend, na die laaste opening van hierdie Parlement, weer met u te kon wees en in u ere-diens te deel. En om my dank en waardering aan u oor te bring vir die voorbidding wat u en u kerk oor die afgelope vyf jaar vir ons land, sy leiers, ons regering, ons demokrasie en ons mense gedoen het. En vir die rol wat u en u gemeenskap gespeel het om vrede, naasteliefde en saam-bestaan in ons eens-verdeelde land te bevorder en te bestendig.

Ek sal binnekort uit die openbare lewe tree. Van die innigste herinneringe wat ek met my sal saamdra, is oor hoe ons mense, in die bestek van so 'n kort tydjie, geleer het om bo historiese verskille uit te reik en hande te vat om saam te bou aan 'n nuwe, verenide nasie. Dat die verdelende politiek van ons verlede waansinnige dwaling was, word vir my deur niks anders so treffend bewys as die gemak waarmee ons mense nou saamwerk en saamleef.

As daar een boodskap is wat ek met u sou wou laat, dan is dit dat Afrikaners 'n besondere rol te speel het in die voortgesette heropbou van ons land. Sonder die bereidwilligheid van u leiers om aan onderhandelinge deel te neem en minderheidspolitiek af te sweer, sou ons nie destyds die doemprofete verkeerd kon bewys het oor Suid-Afrika se politieke toekoms nie. Ons moet ook nie toelaat dat vandag se doemprofete ons mismoedig maak nie. Natuurlik is daar probleme en uitdagings, maar daar is ook ruimte en geleenthede vir almal om hulself uit te leef en te help bou aan 'n beter lewe vir almal. U ervaring en kundigheid is onontbeerlik vir daardie poses van heropbou.

Ek het Vrydag in die Parlement gepraat van 'n "RDP of the soul". Dit is ons eerste taak as regering om die basiese lewens-omstandighede van mense te verander en te verbeter deur die voorsiening van huise, skoon water, elektrisiteit, gesondheidsorg, ordentlike onderwys, werksgeleenthede, veiligheid en beskerming. Ons leer egter daagliks dat daar 'n nog meer basiese taak van heropbou voor ons l� om ons land en samelewing kern-gesond te maak, en lewensvatbaar te hou. Dit is die taak van 'n morele heropbou. Die beste pogings van 'n regering of owerheid sal vrugteloos wees as die mense van 'n land nie in hul eie lewens en innerlike 'n verandering ondergaan nie. Selfsug, korrupsie, 'n gebrek aan 'n gemeenskapsgevoel en naastediens - hierdie is die geestelike vyande van ons pogings om 'n nuwe samelewing te bou waaring ons almal in ordentlikheid kan saamleef.

Dit sal oorbodig wees vir my om uit te wei oor die rol van die kerk in hierdie taak van morele heropbou; u sal dit baie beter weet as ek. Wat ek wel mag se, is dat die wyse waarop die verskillende kerke en godsdienste saamwerk en na mekaar uitreik, self 'n voorbeeld sal stel aan die res van die land. Ook op hierdie gebied sien ek daarna uit dat die Afrikaanse gemeenskap 'n leidende rol sal speel; dat hulle gesien sal word as 'n kragtige skakel in die band van samewerking en naasteliefde wat die nuwe Suid-Afrika werklik nuut sal maak.

Ek bedank u vir u vriendskap en ondersteuning, en ek wens u alles van die beste toe, soos ons ons land en al sy mense seen en voorspoed toewens in die jare wat voorle. Baie dankie.

Issued by: Office of the President

Source: South African Government Information Website

Facebook