banner

 

 

Address by Nelson Mandela at meeting with Afrikaner community, Pretoria

15 April 1999

'n Mens kan nou al die dae begin tel na die einde van ons eerste demokratiese regering. Vir myself sal dit natuurlik beteken dat ek uiteindelik uit die openbare lewe kan tree en bietjie terug sit. Ek sien geweldig daarna uit om tyd te spandeer met my kleinkinders en om weer rustig te kan lees en dink, en gewoon net stil te sit.

As ek terug dink oor hierdie laaste vyf jaar, sal my interaksie met mense uit die Afrikaner-gemeenskap my altyd bybly. Ek het dit as my plig beskou om in aanraking te bly met alle gemeenskappe van ons land; maar dit is 'n feit dat van al die groepe, ek van die mees volgehoue kontak met Afrikaners gehad het.

Dit is nie omdat 'n mens Afrikaners wou verhef bo ander nie; of omdat ek gedink het hulle is meer van 'n probleem as ander nie. Afrikaners het 'n besondere rol gespeel en beklee 'n sonderlinge posisie in die oorgang wat ons land gemaak het. Dit is hul politieke leiers wat die ongekende stap geneem het om deel te neem aan die onderhandelde oordrag van politieke mag. In die proses moes hulle as 'n groep inboet aan alleenreg op mag en toegang tot ekonomiese bevoordeling.

Ek weet nie of Afrikaners altyd ten volle besef watter unieke posisie hulle in Suid-Afrikaanse geskiedenis beklee nie. En hoe daardie geskiedenis hulle toerus om mee te werk aan die ontwikkeling van ons land. Afrikaners was op verskillende stadiums van hul geskiedenis veroweraars en verowerdes; slagoffers van verdrukking en beoefenaars van onderdrukking. Met daardie agtergrond en historiese ervaring, en met hul kundigheid, kan hulle 'n besondere rol speel om die land op te bou tot een van voorspoed, geregtigheid en vreedsame saambestaan.

Veel van wat gedoen kan word, sou in die eerste plek kon wees oor hoe die Afrikaanse taal homself plaas en uitleef in die nuwe omstandighede. Is dit nie soms so dat Afrikaans nog te dikwels gehoor word as die taal van ontevredenheid en negatiwiteit oor die nuwe nie? En dat daardeur 'n bepaalde beeld van Afrikaners in die algemeen geskep word - 'n beeld wat ek persoonlik weet nie juis is nie. My ervaring van Afrikaners is dat hulle oor die algemeen met geesdrif meedoen aan die nuwe en dat hulle die probleme en uitdagings aanvaar as ons gesamentlike besit en verantwoordelikheid.

Afrikaans-sprekendes, waarvan Afrikaners so 'n belangrike deel is, het die sonderlinge geleentheid om rondom hul taal 'n werklik nie-rassige eenheid te bou. Op hierdie wyse kan hulle 'n voorbeeld en besieling wees vir ons hele samelewing, want dis een van ons hooftake as Suid-Afrikaners om die erfenis van rasse-verdeling te oorkom. Vir Afrikaans om die taal en middel vir nie-rassige eenheid te word, sal op 'n sprekende wyse net weer die bewys lewer van Suid-Afrikaners se wonderbaarlike vermo� om die geskiedenis om te keer.

Ek sien reeds op baie terreine hoe Afrikaners en Afrikaans-sprekendes hierdie rol vervul. Sommige van die Afrikaans-talige universiteite neem die voortou om hulself oop te stel vir almal en om betrokke te raak by ontwikkelings-projekte in swart gemeenskappe. Elke keer as ek 'n beroep doen op Afrikaanse sakelui om te help met die bou van skole en klinieke, kry ek 'n positiewe antwoord. Afrikaans-sprekendes in die ekonomiese sektor speel 'n leidende rol om ons 'n mededinger in die w�reld te maak. Een of twee Afrikaanse publikasies staan kop bo skouers uit as stemme van gehalte in ons nuwe demokrasie. En so sou 'n mens kon voortgaan om voorbeeld na voorbeeld te noem.

Die eerste vyf jaar in die lewe van ons demokratiese regering het in baie groot mate gewentel rondom die ontwikkeling van beleid; die voorbereiding van wetgewing om ons apartheid-verlede ter syde te stel; die daarstelling van strukture en prosedure wat die hele bevolking kan dien; en die ontwikkeling en in werking stel van 'n ekonomiese beleid en raamwerk. Dit bly een van die groot jammertes van hierdie tydperk dat die Nasionale Party, op daardie stadium die grootste verteenwoordiger van Afrikaners, die Regering van Nasionale Eenheid verlaat het. Daardeur het hulle grootliks bygedra tot die gevoel onder sommige Afrikaners dat hulle eenkant staan in daardie belangrike proses van heropbou.

Alhoewel veel reeds bereik is in terme van lewering van dienste en die verandering van mense se lewens, sal die volgende fase beslis een van versnelde implementering en lewering wees. Dit sal ook 'n tydperk wees waarin alle Suid-Afrikaners hande moet vat en saamwerk om van ons land die suksesverhaal te maak wat dit kan wees. Terwyl Afrikaners nie meer die oorwegende politieke besit van enige enkele party is nie, behoort die lot van 'n bepaalde party nie hul deelname aan die nasionale lewe te be�nvloed nie. 'n Mens sien uit na die volle medewerking van almal, insluitende Afrikaners in die verskillende rolle wat hulle dwarsdeur ons samelewing beklee.

Een van die belangrikste debatte in ons eerste parlement, was die onlangse een oor Afrikaners waartydens Adjunk-President Thabo Mbeki verslag gedoen het oor sy samesprekings met Afrikaners. Hierdie debat was 'n aanduiding van die erns waarmee die Regering die belange en aspirasies van minderhede beje�n. Dit was in die besonder 'n wegwyser na wat van Adjunk-President Mbeki verwag kan word wanneer hy die President word, soos ons almal verwag.

Dit was nog altyd die beleid van ons organisasie om daarna te strewe dat uit elke situasie ons as land meer verenigd moet kom. Dit was ons benadering tydens die onderhandelinge en dit was die weg wat ons gevolg het in die Regering van Nasionale Eenheid. Thabo Mbeki is 'n jong man wat deur en deur gevorm is in daardie organisasie, en dit spreek duidelik uit sy optredes. Hy is as 't ware groot gemaak deur Oliver Tambo, en daar kon geen groter voorstander van nasionale eenheid gewees het as Oliver Tambo nie. Suid-Afrika sal in baie goeie hande wees, en minderhede in hierdie land sal 'n verfynde kampvegter vir hul regte vind in 'n President Thabo Mbeki.

Versoening en nasionale eenheid word bereik deur 'n proses van wederkerigheid en ek moet my beroep herhaal dat almal deel word en gesien word as deel van die taak van die heropbou en omvorming van ons land. Die bekamping van misdaad en korrupsie, en die skepping van werksgeleenthede gaan voorop staan in die regering se taakstelling vir die volgende fase. Ons moet almal saamstaan en saamwerk in hierdie opsig. Dit is tot niemand se voordeel en help niemand as ons eenkant staan en vingers wys nie. Dit is ons almal se probleme en ons moet dit mede-eien. 'n Suid-Afrika wat voorspoed maak, maak almal voorspoed.

Ek het baie groot vertroue in Afrikaners. Hul naam het hulle daarvan dat hulle hulself beskou het as van Afrika. Hul taal het sy oorsprong hier in Afrika. Ek weet dat die oorgrote meerderheid van hulle sal voortgaan om te help bou aan hierdie Afrika-vaderland van hulle. Vanuit die rustigheid van my aftrede sal ek met belangstelling bly toekyk hoe daar uiteindelik die groot blydskap uit hierdie suiderland kom waaroor Van Wyk Louw gewonder het. In die geskiedenis van ons land het Suid-Afrikaners dikwels teen en onder mekaar geveg; nou kyk die w�reld met verwondering hoe ons saamwerk om een nasie in ons verskeidenheid te bou.

Ek bedank u vir die voorreg om vanaand met u te kon gesels en vir al die jare wat ek met u kon saamwerk. Sterkte en alles van die beste vir u en vir ons land.

Source: South African Government Information Website

Facebook